top of page

SELFBEELD

Wat is dit?

Jou selfbeeld is die beeld of prentjie wat jy van jouself in jou gedagtes het. Of anders gestel; wat jy van jouself dink.

 

Uiteindelik! Jy is in die hoërskool! Jy is klaar met die dinge van ’n kind. Jy is nou groot!

Ons het ongelukkig slegte nuus vir jou. Dít is nie wat die matrieks dink nie. Hulle dink jy is klein. Sommer baie klein!

Nou hoe gebeur dit dan dat die beeld wat jy en die matrieks van jou het, so hemelsbreed kan verskil? Of verskil dit regtig só baie?

Eintlik kan jou selfbeeld en dié van die matrikulant presies dieselfde wees, want selfbeeld is wat jy van jouself dink. Daarom kan beide van julle presies dieselfde gedagtes oor julle self hê, al verskil julle vyf jaar van mekaar. Julle kan dus altwee dink dat julle groot is en reg kan wees. Of verkeerd!

 

Die matrieks dink julle is klein, want dit is nie selfbeeld wat die gedagte by hulle bepaal nie. Dit wat hulle van julle dink, is die persepsie wat hulle oor die graad 8‘s het. Julle is jonger, fisies kleiner en daarom is julle in hul oë klein.

Die belangrikste is egter dat die idee wat jy van jouself het, realisties en positief moet wees. Party mense dink te veel van hulself en daarom word hulle maklik as wintie gesien. Ander dink weer te min van hulself en word as ’n loser gesien.

 

’n Mens se selfbeeld word vanaf jou geboorte gevorm en daar is verskeie faktore wat in die vorming daarvan ’n rol speel. Kom ons kyk na die belangrikste faktore:

 

Faktore wat selfbeeld en selfmotivering beïnvloed:

• Gesin en familie

Jou selfbeeld word in die eerste plek gevorm deur wat mense vir en van jou sê. Hulle optrede teenoor jou is ook belangrik hoe jy jouself gaan sien en motiveer. In hierdie opsig is jou ouers en jou gesin in die eerste linie van vorming. As hulle jou met woord en daad positief motiveer, behoort jy ’n gesonde en gebalanseerde selfbeeld te hê. Indien jy egter gedurig moet hoor hoe hopeloos en sleg jy is, mag jy aan jou eie vermoëns en selfwaarde twyfel.

• Omgewing en gemeenskap

Die omgewing waarin en die mense tussen wie jy grootword, beïnvloed ook jou selfbeeld en selfmotivering. Wat byvoorbeeld jou onderwysers in die skool van jou dink, is belangrik hoe jy oor jouself gaan voel. ‘n Gemeenskap met positiewe invloede

gaan stabiliteit en balans bring, maar die teenoorgestelde soos ’n gemeenskap wat deur bendegeweld geteister word, kan iemand se selfbeeld en selfmotivering groot skade aandoen.

• Vriende

Wat hul vriende van hulle dink, is baie keer vir tieners belangriker as hul ouers se mening. Jou vriende se optredes en gevoelens teenoor jou, is vir jou van groot belang. Jy meet jou aan hul standaarde en bepaal só of jy slim of dom is, oulik is of nie so oulik nie. Ongelukkig is hierdie meetinstrument baie subjektief en kan dit jou óf te veel van jouself laat dink, óf te min. Beide is gevaarlik! ’n Gesonde selfbeeld en selfkennis behoort jou hierteen te beskerm.

• Media

Die TV, koerante, tydskrifte en ander media stel vir ons sosiale standaarde vas. Ons meet ons aan wat ons byvoorbeeld op die TV sien of wat filmsterre doen. Media bepaal wat is in en wat is uit. Wat is cool en wat is gross. Ongelukkig beïnvloed al hierdie dinge ook ons selfbeeld. Is ons, gemeet aan die media, nie cool nie mag ons verkeerdelik minder van onsself dink as wat dit behoort te wees.

• Kultuur

Dit maak nie saak in watter kultuurgroep jy jouself bevind nie, almal probeer sin in die self van menswees vind. Die siening van wat dié self presies is, verskil egter tussen kulture. In onafhanklike kulture (Weste) word die individualiteit van mense beklemtoon terwyl in interafhanklike kulture (Ooste, Afrika) die sosiale rol van die self meer beklemtoon word. Eenvoudiger gestel: In ’n onafhanklike kultuur word jou selfbeeld

baie deur die ek-woord gedefinieer terwyl dit in ’n interafhanklike kultuur meer bepaal word deur waar die ek in die ons-woord (sosiale) inpas. Die self word eerstens as deel van die groep (gemeenskap) gesien.

• Godsdiens

’n Ondersoek wat in 1999 deur die Universiteit van Michigan in die VSA gedoen is, het bevind dat tieners wat by godsdienstige aktiwiteite betrokke was, ’n beter selfbeeld het as dié wat nie kerklik betrokke was nie. Die navorsers het hieruit die gevolgtrekking gemaak dat kerke en godsdienstige instellings die tieners leer het om ’n positiewe beeld omtrent hulself te hê.

 

 

"Verander die manier hoe jy dink oor jouself en verander jou hele lewe”!!!

 

Hoe meer jou brein gestimuleer word met positiewe en optimistiese denke des te meer kan die manier van denkwyse vasgelê en gevestig word in jou onderbewussyn.

 

Maniere om jou selfbeeld te ontwikkel

 

Jy kan jou selfbeeld geleidelik ontwikkel deur aan verskeie areas in jou lewe te werk. In hierdie artikel sal daar gefokus word op 3 wyses om jou selfbeeld te ontwikkel.

 

  • Ontwikkel jouself as `n geheel

  • Versorg en vertroeteljouself

  • Ontwikkel `n goeie ondersteuningsisteem

 

Ontwikkel jouself as 'n geheel

 

  • Fisiese welstand en liggaamsbeeld

  • Uiting van emosies 

  • Positiewe selfpraat

  • 'n Gevoel van sukses  

 

Wat is die gevolge van `n lae selfbeeld

Jou selfbeeld kom van binne. As jou selfbeeld laag is veroorsaak dit gevoelens van leegheid binne jou. Persone probeer dikwels hierdie leë gevoelens vul deur kompulsief te klou aan iets ekstern bv alkohol, dwelmmiddels, afhanklike verhoudings ens. Deur dit te doen is daar tydelike en korttermyn verligting. Wanneer die soektog om hierdie leë gevoelens met eksterne bronne te vul herhalend, desperaat en outomaties raak het jy `n verslawing ontwikkel. Breedweg gedefinieer is `n verslagwing `n gehegtheid aan iets of iemand buite jouself wat jy glo jy nodig het om innerlike bevrediging en verligting te hê. Bv. Persone glo dikwels dat hulle in `n intieme verhouding MOET wees om gelukkig te wees en dat hulle nie verder sal kan leef as die ander persoon hul dalk los nie. Dikwels sal hierdie persone ook eerder in `n ongelukkige verhouding bly as om alleen te wees.

 

 

bottom of page