lewensoriëntering
vir die juffrou
Klasdissipline:
INLEIDING
Een van die onderwerpe ten opsigte van die Suid-Afrikaanse onderwys wat die meeste deur onderwysers, ouers, leerders en die breë gemeenskap bespreek word, is die stand van dissipline in skole. Dit is spesifiek die uitdaging ten opsigte van handhawing van ‘n ordelike onderrig-leerklimaat wat bevorderlik is vir effektiewe onderwys wat telkens in die fokus geplaas word. Die vrae wat dadelik na vore kom, is:
-
Waarom is ‘n positiewe dissiplineklimaat nodig?
-
Wat is die oorsake vir leerderwangedrag leerders?
-
Watter vorm van wangedrag bestaan in skole?
-
Watter oplossings bestaan vir leerderwangedrag?
1. WAAROM IS ‘N ORDELIKE ONDERRIG-LEERKLIMAAT NODIG?
‘n Positiewe gedissiplineerde omgewing is nodig sodat die interaksie tussen die onderwyser en die leerder(s) ongehinderd kan plaasvind en sodat die leerders maksimaal leerwins daaruit behaal. Daar behoort dus nie hinderlike omstandighede te wees wat hierdie wedersydse interaksie of kommunikasie beperk nie. Voorbeelde van sulke gebeure wat effektiewe onderwys beperk, is:
-
Die onderwyser en leerder(s) se aandag kan byvoorbeeld afgetrek word deur ‘n leerder wat aanmekaar onderlangs grappies maak.
-
Leerders wat nie oplet nie en die instruksies foutief uitvoer, kan ‘n wetenskap-eksperiment laat ontplof (met groot skade).
-
Leerders wat toerusting, byvoorbeeld handboeke en instrumente, verniel of steel veroorsaak dat ander leerders nie effektief kan leer nie.
-
Leerders wat hul wil op ander leerders afdruk veroorsaak dat daardie ander leerders nie hul eie unieke leerstyle kan ontgin en ontwikkel nie.
2. MOONTLIKE REDES VIR LEERDERWANGEDRAG
‘n Verskeidenheid van moontlike oorsake vir leerderwangedrag kan aangevoer word. Die volgende is enkele voorbeelde daarvan:
-
Die selfgerigtheid van mense is ‘n oorsaak van die dissipline-probleme in skole. Oor die eeue, en miskien meer so in die huidige tydsgewrig, is mense daarop ingestel om hul eie belang eerste te stel. Dit beteken dat baie individue alles sal doen om hul eie voordeel te verseker, selfs al beteken dit om die voordeel van ander te skaad en om ander te benadeel. Dit gaan sulke mense nie aan of hul dade, byvoorbeeld die diefstal van sekere apparaat of die uitskree van antwoorde, ander leerders in hul leeraktiwiteite negatief sal raak nie.
-
Individue het nie geleer om binne grense te leef nie en dit dra by tot dissipline-probleme in skole.
-
‘n Volgende oorsaak van dissipline-probleme by skole is die swak-ontwikkelde persoonsbeeld van individue. Sulke leerders dra op die vlak van nie-deelname, teruggetrokkenheid, ens by tot ‘n dissipline-omgewing wat nie bevorderlik is vir effektiewe leer nie.
-
Die onbehoorlike versorging van kinders lei ook direk tot die benadeling van ‘n positiewe dissipline-omgewing vir effektiewe onderwys. Kinders wat byvoorbeeld honger het, konsentreer moeilik, se aandag word maklik afgetrek, kan ongehoorsaam wees en moeilik saamwerk in ‘n groep.
-
Deesdae word al meer-en-meer oor kindermishandeling gerapporteer. Aktiwiteite soos onbehoorlike emosionele teistering en fisiese mishandeling kan ongedissiplineerde gedrag by leerders tot gevolg hê.
-
‘n Besonder erge oorsaak van ongedissiplineerde gedrag is dwelmmisbruik. Die gebruik van dwelms laat individue onvoorspelbaar optree.
-
Negatiewe druk van die portuurgroep kan tot dissipline-probleme in skole aanleiding gee.
-
Swak onderwysers, wat nie meesters van hulle vakke is nie en wat self ongedissiplineerd optree, sowel as onbevoegde bestuurders op skool- en departementele vlak, is ook ‘n belangrike oorsaak van dissipline-probleme by skole.
3. VORME VAN LEERDERWANGEDRAG WAT IN SUID-AFRIKAANSE SKOLE ERVAAR WORD
Die volgende is voorbeelde van dissipline-probleme wat by verskillende skole ervaar word (Oosthuizen, IJ. 2007. Report on learner discipline in the Southern Region. North-West University: Potchefstroom):
-
Die vorm van wangedrag wat die meeste voorkom, is onbehoorlike taalgebruik. Vloektaal kom gereeld voor en benadeel die dissiplinêre omgewing bevorderlik vir effektiewe onderwys.
-
Nalatigheid en die ontduiking van verantwoordelikheid is volgens die Verslag die probleem wat die tweede meeste probleme veroorsaak.
-
Onnetheid word daarna as ‘n probleem gerapporteer.
-
Afwesigheid van skole is ‘n volgende probleem wat gerapporteer word.
-
Daarna word gerapporteer dat leuenvertellery ‘n groot oorsaak van dissipline-probleme is.
-
Traagheid by leerders word as ‘n definitiewe oorsaak van dissipline-probleme gelys.
-
Afknouery van leerders is ook ‘n belangrike rede tot die ontstaan van dissipline-probleme.
-
Ontwrigtende gedrag, bedoelende gedrag wat nie inpas by die ooreengekome wyse van optrede nie, dra ook by tot die ontstaan van dissipline-probleme.
-
Parmantigheid word gerapporteer is ‘n belangrike oorsaak van dissipline-probleme. Parmantigheid hou in wese nie rekening met die menswaardigheid van individue nie en lok verset en wederkerige geweldadige optrede uit.
-
Onbeskoftheid, naamlik die nie-erkenning van bepaalde gesagstrukture en die nie-handhawing van algemeen-aanvaarde gewoontes van die gemeenskap, word pertinent as belangrike oorsaak van dissipline-probleme gerapporteer.
-
Buierigheid dra ook by tot dissipline-probleme in skole. Dit beteken dat ‘n mens nie op die konstante en goedgeaarde houding van individue kan staat maak nie.
-
Uittartende gedrag is uiteraard ‘n belangrike aspek wat dissipline-probleme by skole veroorsaak.
-
Gebrek aan respek word gerapporteer (en dit hou verband met vele van bogenoemde oorsake) as negatiewe bydrae tot positiewe dissipline in skole.
-
Geweld, in watter vorm ook al, dra volgens die Verslag beslis by tot dissipline-probleme in skole.
-
Vandalisme is, sonder dat dit nodig is om te verduidelik, gelys as belangrike oorsaak van dissipline-probleme by skole.
-
Bende-aktiwiteite word gelys as ‘n oorsaak wat veral by sommige skole voorkom en wat dissipline-probleme tot gevolg het. Daar moet egter daarop gelet word dat bende-aktiwiteite enersyds formeel en geweldadig kan wees, maar andersyds kan die aktiwiteite van portuurgroepe en ‘klieks’ net so nadelig wees vir die vestiging van ‘n positiewe dissipline omgewing by ‘n skool.
-
Hoewel minder algemeen in voorkoms, word gerapporteer dat dwelmmisbruik en die voorkoms van pornografie bestaan en dat sulke gebeure beslis ‘n negatiewe impak op die dissipline van skole het.
4. EFFEKTIEWE METODES DEUR DIE ONDERWYSER VIR DIE HANTERING VAN LEERDERGEDRAG:
-
Deeglike voorbereiding deur u as onderwyser.
-
Vakkundige kennis van u as die onderwyser.
-
Positiewe dissipline wat ‘n positiewe benadering deur u behels.
-
Oog-tot-oog gesprekke met die ouers van ’n leerder.
-
Die gebruik van ‘n stel klasreëls.
-
Beloning.
-
Beklemtoning van waardes.
-
Verwysing van leerder na skoolhoof.
-
Aanmoediging en stimulering van leerdertrots.
-
Gereelde gebed.
-
Leerderdeelname by die opstel van ‘n gedragskode.
-
Vermanings.
-
Ekstra werk.
-
Die beklemtoning van tradisies.
-
‘n Meriete-demeriete stelsel.
-
Wegneem van voorregte.
-
Verwysings van leerders na die tugkomitee van die beheerliggaam.
-
Gemeenskapdiens.
-
Detensie.
-
Isolasie in die klaskamer.
-
Isoloasie buite die klaskamer.
Voorkomende benadering
Die voorkomende benadering behoort deur u as onderwyser, die leerders, die skool en die ouers ondersteun en uitgedra te word. Die voorkomende optredes sluit, onder andere, die volgende wyses in (Oosthuizen, IJ (red). 2006. Praktiese wenke vir leerderdissipline. Van Schaik: Potchefstroom. hoofstukke 2 – 4):
U as onderwyser is ‘n professionele persoon en daarom moet u, onder andere:
-
deurlopend ooreenkomstig die riglyne van ‘n professionele persoon optree;
-
u take goed beplan en professioneel uitvoer;
-
meester van u vak wees;
-
betyds wees;
-
billike eise en optrede van leerders verwag;
-
leerders met respek hanteer;
-
leerders as individue ken;
-
u onderrigstyl, -strategie en –metodes gereeld aanpas en wysig;
-
geloofwaardig wees;
-
konsekwent wees, differensieer soos nodig maar nooit diskrimineer nie;
-
konsentreer op die positiewe;
-
korrek teenoor moeilike leerders optree (byvoorbeeld: vermy vyandigheid, gebruik positiewe taal asook lyftaal, wees beslis maar redelik, ens);
-
selfbeheersing en geloofwaardigheid behou;
-
nie toelaat dat hy/sy geïntimideer of geviktimiseer word nie (hy/sy moet byvoorbeeld nie verbouereerd raak oor, onder andere, grappies wat na hom/haar gerig word nie, sy/haar opleiding en aanstelling gee aan hom/haar die reg en gesag om daar te wees);
-
die belhamels identifiseer en hulle leierseienskappe tot voordeel van ‘n positiewe dissipline-omgewing gebruik;
-
onthou dit is gewoonlik die minderheid wat probleme maak (moet nou nie almal straf, in die bondel, bloot terwille van groepsdruk wat daaruit kan voortvloei nie);
-
poog om die leerders te help om tot self-insig te kom (en te verstaan waarom ‘n optrede verkeerd of korrek was);
-
altyd eers alle kante aanhoor en ‘n gemotiveerde, gebalanseerde besluit neem;
-
beloning, erkenning en straf uitdeel soos nodig;
-
probleme uitpraat en vergewe;
-
nie bang te wees om verskoning te vra nie;
-
wedersydse respek bevorder; en
-
met volharding werk aan die vestiging van ‘n positiewe dissipline-omgewing.